Die Suidwester, Pieter Daniel Naude, is gebore en getoë in die destydse Suidwes (vandag Namibië) en ‘n stoere Blou Bul ondersteuner. Pieter, wat al bykans 21 jaar bedrywig is in die musiekbedryf in Suidwes asook Suid Afrika geniet dit om musiek te maak en het nog altyd gedroom om die hoogste sport te bereik.
In 1989 het Pieter sy lewensmaat, Ester, ontmoet en vir 6 jaar met haar uitgegaan voordat hy op sy knieë gegaan het en die ja-woord gevra het. Pieter en Ester is in 1995 getroud en het 2 pragtige dogters wat hy sy “engele” noem, Danelle & Sunita.
Pieter en sy vriend, Rennie het in 1990 ‘n tweeman orkes in Windhoek begin genaamd Zenith en het vir 12 jaar die hele land plat getoer. Pieter het later in samewerking met Juanita du Plessis (Pieter se suster) en swaer Doepie die groep Jupidu gestig en ten minste eenkeer per maand saam opgetree… musiek is beslis in hierdie boetie en sussie se bloed.
In 2002 het Pieter Namibië verruil vir Suid Afrika en ‘n nuwe lewensboek begin, weg van die bekende. Pieter het vir ‘n paar maande saam met Juanita en Doepie getoer en gehelp met die beligting op haar vertonings. In 2004 het Pieter besluit om weer self op die verhoog te klim en te sing. Select Musiek was daar om Pieter se eerste CD, Mooiste Meisie, bekend te stel. Hierdie CD was baie goed ontvang deur Suid-Afrikaanse sowel as Namibiese gehore en het vir meer as 5 weke op die DKNT Top 10 gepronk. Hy is vereer met Nuweling en liedjie van die jaar op Radio IFM se SA Country top 10. Pieter is ook in 2006 genomineer as “Nuweling van die Jaar” tydens die Huisgenoot Tempo Toekennings en het ‘n gewilde gesig en stem geword op TV; by feeste; bekende kuierplekke; troues ens.
Nadat hy 5 jaar gelede deur een van die giftigste spinnekoppe gebyt is en daarna gediagnioseer is met ‘n gewas op die brein, het Pieter sy sangloopbaan bietjie opsy geskuif om behoorlik herstel. Tot vandag toe sê Pieter dat dit ‘n draaipunt in sy lewe was. Pieter se 2de album is uitgereik deur Juanita Records en Maroela Musiek en was bestempel as een van die opwindendste albums van 2008. Die pragduet wat Pieter saam met sy suster Juanita sing ”Wag vir Jou”, is ook die titelsnit op die album en het alreeds die dansvloere en luggolwe reg oor die land aan die brand. Die musiek video vir hierdie liedjie is gemaak deur Blixem productions en word gereeld oor KYKNET en Jukebox gespeel. Die hele album is ‘n stukkie klas en warmte met Pieter se smeulende stem wat liedjies soos “Nag van Verlange” en “Leef” in luistergenot vir jonk en oud omskep. Daar is egter nog vele ander musiek op die album. Van betekenisvolle ballades tot polsende dansmusiek wat Pieter uitgeknip maak vir enige geleentheid.
Sy nuwe dubbel album "Gee my net vlerke" is vroeg in Januarie 2011 bekend gestel. Daar is 6 Liedjies wat uit sy eie pen kom en die skryf talent is verseker daar. Verder is daar op die tweede cd 16 Country liedjies en verskeie mense meen dat dit sy stem baie goed pas. Maak seker dat julle vir Pieter Naude kry vir julle feeste en funksies, en as die geleendheid daar is om hom tesien tydens een van sy baie vertonings deur die jaar gryp dit aan!!!